Individual Note
: |
(Notas uit gedcom lêer vanaf Christo Heymans ontvang A0080) a1.b3.c6.d4 Paul Jacobus Greyling was 19 jaar en 2 maande oud toe hy in die huwelik bevestig was met Anna Catharina Elizabeth CARELSE. Paul Jacobus Greyling en Anna Catharina Elizabeth CARELSE se plaasadres word met die doop van hulle eerste kind in 1831 as Rietrivier aangegee.
Paul Jacobus Greyling bekom n plaas aan die Oostekant van die Caledonrivier aan die grens met Lesotho. Prinsloo wat die geskiedenis van Smithfield en die Caledonrivierdistrik van 1819-1952 in groot detail in sy boek aangeteken het, noem Paul Jacobus Greyling op verskeie plekke (p.111, 121, 205, 233, 241). Paul Jacobus Greyling het verskeie plase besit, onder andere, Kalkoenkrans in die wyk Wilgebosspruit. (p.111), waar hy al van voor 3 Feb 1848 gewoon het.
Op bladsy 205 skryf Prinsloo soos volg: "In daardie dae kon mense maklik plase in hande kry en ook baie goedkoop en een van die boere wat op die manier plase gekry het, was P. Greyling, wat toe weer sy plase met profyt van die hand gesit het. Dus het hy op 9 Julie 1859 n vendusie gehou en die volgende plase het hy verkoop: Zoetfontein, Boesmanshoek, Platkop en Kafferskop en op dieselfde dag het hulle toe ook die skutvendusie gehou, een van die gereeldste verkopings wat in daardie dae plaasgevind het, wat toe te skryf was aan die veld wat nie omhein was nie."
Dit is moeilik om die presiese ligging van die plase op huidige landmeterskaarte vas te stel omdat baie plase eers later amptelik opgemeet is en die name amptelik geregistreer is. Die plaas ZOETFONTEIN het egter sy naam behou. Die plaas lê aan die Caledonrivier en die Grahamstadspruit, in die huidige Rouxvilledistrik. Daar kan met groot mate van sekerheid aanvaar word dat die ander genoemde plase aan ZOETFONTEIN gelê het en dat die hele gebied van ZOETFONTEIN langs die Caledonloop op, aan Paul Jacobus Greyling, en later aan sy seuns behoort het.
Die amptelike sterfkennis van Paul Jacobus Greyling, toon aan dat hy die eienaar was van die volgende plase: Roodedam, Bankkraal, Smaldeel en Treurfontein, en van gedeeltes van die plase Bernardus, Grysdal en Weenkop, verder ook van n erf met n huis op Rouxville. Die plase beslaan n groot oppervlakte langs die Caledonrivier. Wat aardse besittings betref, was Paul Jacobus Greyling, dus n vermoënde man, want met soveel plase moes daar ook groot veetroppe gewees het.
Om hierdie nagelate eiendomme te bestuur, benoem Paul Jacobus Greyling se weduwee, Anna Catharina Elizabeth CARELSE, een van haar seuns, Johannes Barend Greyling (b3.c6.d4.e8) as haar gevolmagtigde op 19 Aug 1879.
Hierdie gebied waar Paul Jacobus Greyling geboer het, leen hom veral tot skaap- en beesboedery, maardie Greylings het hulle ook mettertyd as perdeboere onderskei. Die gebied was egter ook blootgestel aan rooftogte deur die Basoetos wat groot dele van die Rouxville en Smithfielddistrikte as hulle eiendom beskou het. Paul Jacobus Greyling en sy seuns het dan ook aan verskeie van die veldtogte teen die Basoetos deelgeneem. Prinsloo (p233) meld verder dat Paul Jacobus Greyling teen 1861/1862 vrederegter vir sy gebied was. As gevolg van die baie veediefstalle deur die Basoetos het president Boshoff n kommissie afgevaardig om Mosjesj, opperhoof van die Basoetos op 28 Mei 1863 op Morija te ontmoet. Paul Jacobus Greyling het saam met Job Harvey, landdros van Smithfield, en menere W G Every en Jan Olivier die kommissie gevorm, (Prinsloo, p241). In Junie 1868 was daar n aanval op Paul Jacobus Greyling se plaas naby Elandsberg en was van sy vee weg (Prinsloo, p313).
Die grafte van Paul Jacobus Greyling en sy eggenote, Anna Catharina Elizabeth CARELSE, moet nog opgespoor word. Die waarskynlikste is dat dit op een van die plase Roodedam of Bankkraal lê. n Onlangse besoek (11 Nov 1992) aan Rooidam het ongelukkig niks opgelewer nie omdat die huidige eienaar van Rooidam, Frans Cronje, nie tuis was nie.
|